Elders is dit mooiweer en warm. Die weervoorspelling in Suid-Afrika het daardie amper as standaard tema gehad, dit was altyd deel van die bulletin.
Ek het altyd gewonder oor elders. ‘n Ver plek anderkant die horison. Plekke om te ontdek, die mense wat daar bly.
Vandat ek in Nieu-Seeland bly, is elders nog meer prominent in my lewe. Dis Suid-Afrika, die landskap, en sy mense. Maar dis ook oral waar ons op reis is, elkeen van ons. Wêreldwyd, of net in jou omgewing, in jou siel. Die lewe is immers ‘n reis van ontdekking, veral van die self. En langs die pad wil mens soms stilstaan en besin – oor die mense wie jy ontmoet, die ervarings waaruit jy wyser word, dit wat jy lees wat jou op ‘n nuwe reis laat gaan, die besondere band wat mens het met die natuur en die heelal. Die soeke na elders is dus die soeke na identiteit, na groei, na selfontwikkeling.
Skryf is vir my soos asemhaal. Hierdie blog reflekteer my lewensreisverhaal en dit wat ek voel om te deel. En omdat ek spesifiek hoop om universele temas aan te spreek – eerder as net my eie ervaring – hopelik joune ook.